30 Januarie – Salige Sebastiaan Valfrè

Salige Sebastiaan Valfré, priester

Sebastiaan is op 9 Maart 1629 uit ʼn arm familie in Verduno in Piedmont gebore. Hy studeer in Turyn en word op die 24ste Februarie, 1652 tot priester gewy. Sy geleerdheid raak alombekend en hy verwerf ʼn doktorsgraad in teologie van die Universiteit van Turyn. In 1651 sluit hy by ʼn Oratoriaanse priester aan wat in Turyn werksaam was en met ʼn paar ander manne stig hulle uiteindelik ʼn Kongregasie van die Oratorium van St. Filip Neri. Salige Sebastiaan was ʼn toegewyde en beminde priester, bekend om sy eenvoud en goeie sin van humor.

Hy was vir baie jare die provoos van die Turynse Oratorium en privaat leermeester van die jong hertog van Savoje (die latere Vittorio Amadeo II) vir wie hy ʼn boek geskryf het: “Die kuns van heiligende oorlog”. Hierin verklaar hy dat oorlog altyd die laaste uitweg behoort te wees (nadat allerhande ander onderhandelinge eers volledig probeer is) en spel hy die menswaardige behandeling van diegene uit wat onskuldig in ʼn oorlog situasie vasgevang word. Salige Sebastiaan skryf ook ʼn verhandeling oor Christelike vervolmaking wat groot aftrek in sy tyd gekry het. Tydens die jare 1685-86 het die Franse koning Lodewyk XIV die Protestantse Waldensers vervolg en baie van hulle het as gevangenes in Turyn beland. Salige Sebastiaan het hulle versorg en uit sy pad gegaan om hul lewensomstandighede te verbeter. In 1706 beleër die Franse troepe Turyn. In hierdie tyd van angs en wanhoop was Vr. Sebastiaan die lig wat sy stadsgenote deur dié haglike situasie gehelp en bemoedig het. Ná vier maande se beleg is Turyn uiteindelik deur die hertog van Savoje ontset, dit was egter Sebastiaan wat as die held van die beleg beskou is. Salige Sebastiaan sterf op die 30ste Januarie, 1710. Hy is op 31 Augustus 1834 deur pous Gregorius XVI tot salige verklaar.

 

 

Advertisements