16 Januarie – St. Josef Vaz

St. Josef Vaz, priester

Josef Vaz is op 21 April 1651 in Goa, Indië gebore. Hy word ʼn priester en voel homself geroepe om die Katolieke geloof in die destydse Ceylon te gaan verkondig. Die Nederlandse owerhede in Ceylon het egter alle Katolieke sendingwerk verbied. In 1681 gaan doen hy sendingwerk in Kanara waar hy onder baie moeilike omstandighede sy pastorale arbeid moes verrig. Hy keer later terug na Goa waar hy en ʼn groepie priesters ʼn Kongregasie van die Oratorium van St. Filip Neri op die been bring.

Uiteindelik vertrek hy in 1686 in die geheim na Ceylon. Daar aangekom vermom hy homself as bedelaar en dit is in daardie gedaante dat hy duisende mense se harte aangeraak het. Toe dit aan die koloniale owerhede bekend word dat hy in Ceylon was, is daar ʼn grootskaalse soektog na hom van stapel gestuur. Hy slaag egter altyd daarin om sy agtervolgers te ontwyk. Uiteindelik wen hy die vertroue en beskerming van die koning van Kandy, ʼn gedeelte van Ceylon wat nog onafhanklikheid geniet het. In 1697 word religieuse vryheid toegestaan en sluit sy mede-Oratoriane hulle by hom aan. In die jare wat volg oefen die Salige Josef Vaz en sy Oratoriane ʼn merkwaardige invloed oor die hele eiland van Ceylon uit. Hy sterf op die 16de Januarie, 1711 en by tye van sy dood was die Katolieke Kerk 70 000 mense sterk in Ceylon. Hy word vandag vereer as die Apostel van Ceylon. Josef is op 14 Januarie 2015 te Colombo, Sri Lanka deur Pous Franciskus heilig verklaar.

 

 

 

 

Advertisements